Inbrake op galop-pad

tygerburger23 Oktober 2002

Deur Marlene van Houwelingen

SY status as top-veiligheidsbewuste woonbuurt ten spyt: Welgemoed staan nou - saam met Boston en Oakdale - bekend as dié inbraak- en misdaadwoonbuurt in die Tygerberg.

En in Parow het die polisie inbrake by huise sy voorkeurmisdaad gemaak. Terselfdertyd het Parow se polisie sy kommer uitgespreek oor die toenemende aantal vuurwapens wat uit huise gesteel word.

In van die talle voorvalle die afgelope tien dae in die Welgemoed-omgewing het 'n huisgesin in Kommandeurstraat binne vyf dae so te sê al hul besittings tydens twee inbrake verloor.

Ondanks veiligheidsmaatreëls, wat 'n rekenaargekoppelde tuiskamerastelsel insluit, is byna alles uit die huis gesteel. In albei gevalle is die inbrekers afgeneem en is hul foto's aan die polisie verskaf.

Verskeie inwoners van dié buurt het teenoor TygerBurgerlaat blyk al hoe meer mense dwaal bedags oënskynlik doelloos daar rond.

'n Inwoner van Marastraat het gesê hy leef in vrees omdat daar al aan sy vensters gepeuter is. Volgens hom is daar duidelik deesdae ook 'n groter polisieteenwoordigheid in die gebied.

Kapt. Fienie Nimb, polisiewoordvoerder van Bellville, het by navraag bevestig dié buurt loop kwaai onder inbrake deur. Die afgelope maand is drie inwoners helder oordag in hul huise oorval. "Welgemoed en Tygerberg-Heuwels lê aan groot paaie wat maklike ontsnaproetes bied en 'n taxiroete loop deur die gebied.

"Vreemdelinge klop aan die inwoners se deure en vra gewoonlik water of padaanwysings, of vertel hul motor het gebreek. Wanneer die inwoners die voordeur oopmaak, word hulle oorval."

Volgens Nimb is 'n verdagte rooi Toyota die afgelope ruk in die gebied opgemerk.

Mnr. R.V. van Kommandeurstraat het gesê die twee inbrake in sy huis so kort ná mekaar het sy gesin erg getraumatiseer. "Die opsie om oorsee te gaan, raak al hoe aanlokliker."

Volgens hom het sy kamera gewys 'n man en vrou het tydens die eerste inbraak onder meer 'n hoëtroustel, juweliersware en CD's gespeel. Die tweede keer is net 'n man afgeneem, omdat die diewe die elektrisiteit ontkoppel het. 'n Mikrogolfoond, beddegoed, kos uit die yskas, en van die kinders se besittings is weggedra.

Dit blyk nou die inbrekers het die gesteelde goedere op 'n bakkie gelaai en met tuinvullis verberg.

"Ons woon al 27 jaar hier, maar dit het nog nooit so sleg gegaan nie. Vandat die heining om die gholfbaan opgerig is, het die rondlopers na die buurt self verskuif."

* Voorletters gebruik om identiteit te beskerm.